WAT KAN MELKPRODUSENTE IN 2021 VERWAG?

 

MPO-INLIGTINGSTUK JANUARIE 2021

Melkprys

Die MPO is optimisties dat melkboere se produsenteprys vanjaar kan verbeter. Die verwagting is dat die opwaartse momentum in die produsenteprys vir onverwerkte melk tot minstens Augustus vanjaar sal voortduur. Die rolspelers stroomaf in die waardeketting het die melkprys wat aan die melkboer betaal word sedert die begin van 2018 verwaarloos en het ook in die jongste tyd weereens te stadig gereageer om die melkprys genoegsaam opwaarts aan te pas. Melkproduksie behoort ook gestimuleer te word deur die opwaartse beweging in die plaashekprys.

Stygende voerpryse in 2020 het boere se kosteknyptang vererger. Die November 2020-vlak van die geelmielie- en sojaboonpryse het die melk-tot-voerprys-verhouding op 1,1:1 te staan gebring, wat produksie van onverwerkte melk benadeel. Dit lei daartoe dat melkprodusente teen ’n verlies produseer, wat op sy beurt beteken dat hulle van hul reserwes gebruik, meer geld moet leen, minder optimaal moet produseer of die bedryf moet verlaat.

Risiko van invoer

Die risiko van invoer het verhoog met die versterking van die rand teen die Amerikaanse dollar, wat die deurlopende monitering daarvan noodsaak. Agri Inspec kyk veral na ingevoerde produkte se land van oorsprong om seker te maak dat produkte Suid-Afrika nie tariefvry via lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap binnekom nie.

Agri Inspec het in September 2020 ’n ondersoek begin na UHT-verwerkte melk wat via die Mananga-grenspos tussen Suid-Afrika en eSwatini die land binnekom het, asook afgeroomde melkpoeier wat teen lae pryse vanuit België en Frankryk ingevoer word.

Watermeters vir besproeiingsboere

Die verlengde voldoeningsperiode van 120 werksdae vanaf 18 September 2020 wat deur die Departement van Water en Sanitasie vir besproeiingswatergebruikers verleen is om watermeters te installeer, kom op 10 Maart 2021 ten einde. Nie-nakoming van hierdie instruksie  kan lei tot ’n boete of gevangenisstraf vir ’n tydperk van nie meer as vyf jaar nie.

Die vereiste geld vir sowel besproeiingswatergebruikers binne waterbestuursinstellings (soos voorheen vereis ingevolge Staatskoerant Kennisgewing 141 van 23 Februarie 2018) as vir watergebruikers wat nie lede van waterbestuursinstellings is nie (soos voorheen vereis ingevolge Staatskoerant Kennisgewing 34 van 17 Januarie 2020).

Dieregesondheid

Die MPO en die nasionale dieregesondheidsforum gaan vanjaar onder andere fokus op brusellose, soönoses en siektes soos ensoötiese beesleukose (EBL). Bek-en-klouseer is redelik onder beheer, maar sal steeds baie aandag geniet om te verseker dat Suid-Afrika sy bek-en-klouseer-vrye status kan herwin. Die natter weerstoestande sal meebring dat insekoordraagbare siektes soos knopvelsiekte en Slenkdalkoors deurentyd ’n gevaar bly. Boere moet verseker dat hulle diere hierteen geïmmuniseer is.

Alhoewel die suiwelbedryf die aanslag van COVID-19 taamlik goed bestuur, is biosekerheid op melkplase steeds nie voldoende gevestig nie en moet elke deelnemer in die suiwelwaardeketting tot biosekerheid en biobeheer bydra om die integriteit van die suiwelwaardeketting te beskerm.

Dierewelsyn en omgewingsvriendelike boerderypraktyke

Druk vanaf verbruikers en die kleinhandel rakende omgewingsvriendelike boerderypraktyke en etiese dieresorg neem toe en laasgenoemde is een van die kwessies waarna die MPO, Melk SA en die nasionale dieregesondheidsforum vanjaar kyk.

As deel van Melk SA se navorsingsprojek is die suiwelstandaarde-agentskap gevra om navorsing te doen oor die praktiese inwerkingstelling van die SABS-standaard SANS 1694 oor die welsyn van melkbeeste.

Melkprodusente word aangemoedig om deurlopend hul rentmeesterskap van, onder andere, die omgewing (grond, water en lug) te monitor en verbeter.

Barbara Bieldt, bestuurder van regulatoriese dienste en rentmeesterskap, Melkprodusente-organisasie (MPO)

Laai die MPO-inligtingstuk in pdf-formaat hier af 

Published on Thursday, 21st January 2021 - 12:41

Recent Posts

CHURN YOUR WEEKEND INTO A WEST COAST CHEESE AND WINE FESTIVAL

12 April 2022 Over the weekend of Saturday 23 to Sunday 24 April, the historic Groote Post Wine Estate, world-renowned for its award-winning wines, will play
Read More

HEAVY RAINFALL, ROADS CLOSURES PUT STRAIN ON KZN’S AGRICULTURAL SECTOR

MEDIA RELEASE                                                                                                                   14 April 2022 The exportation of produce and importation of agricultural related goods has been significantly affected by the recent severe weather conditions
Read More

INTERNATIONAL FARMER PRICES AND DAIRY PRODUCT PRICES AT RECORD LEVELS

MPO POINTER 2/8 April 2022 In Europe, the average farmer price of unprocessed milk is up by 20%. Indeed, a new price regime developed after numerous
Read More

FOOT-AND-MOUTH DISEASE BIOSECURITY STRATEGY FOR THE MILK PRODUCER

FOR IMMEDIATE RELEASE | 31 March 2022   Since 1 March 2022, eight new outbreaks have occurred in four South African provinces. Limpopo              2             11 March
Read More

disclaimer