PADLANGS PRAAT: MITE OF FEIT?

MPO AANWYSER 3/23 MAART 2021

  1. Beteken meer melk meer geld?
  2. Het die negatiewe plaasekonomie in 2018, 2019 en 2020 reserwes en kapasiteit op melkplase uitgewis?
  3. Is die beste opsie in die huidige bedeling om die produksiegroei van onverwerkte melk af te skaal?
  4. Het die suiwelwaardeketting ’n bosberaad nodig?

 BETEKEN MEER MELK MEER GELD?

Die begrip ‘meer melk beteken meer geld’ kom uit die VSA en het baie jare gelede in Suid-Afrika posgevat. Dit lyk asof dit deel uitmaak van die DNS van die primêre bedryf. Die vertrekpunt van hierdie konsep is die beginsel dat marginale meer opbrengs, wat die gemiddelde vaste koste plus R1,00 dek, ’n aanduiding is dat daar ’n winsmarge is, en dat meer melk dus meer geld beteken. Die gemiddelde veranderlike koste word egter net gedeeltelik gedek, wat toon dat daar ’n beperking is op die duur van hierdie situasie. Die rekeningkundige beginsel hou steek, maar die verlengde uitwerking op die prysvlak van onverwerkte melk moet ook verreken word om die mediumtermyn-effek op die winsgewendheid in die jaar van produksie asook die volgende twee jaar te bereken.

Kom ons kyk na die situasie oor die afgelope drie jaar. In 2018 het melkboere 4,82% meer onverwerkte melk geproduseer as in 2017. Hierdie vlak van produksie het die melkprys vir boere met 18% in 2018 laat daal. Die prys het herstel met 10% in 2019, en daar was aanduidings dat prysontwikkelings in die sekondêre en tersiêre bedrywe ingehaal word, maar dit was nie werklik die geval nie. Die produksie van onverwerkte melk het in 2019 basies gestagneer – dit het met slegs 0,65% gegroei. In 2020 het die prys met 11% herstel, steeds met aanduidings dat prysontwikkelings in die sekondêre en tersiêre bedrywe ingehaal word, maar sonder dat dit werklik die geval was. Die produksie van onverwerkte melk het in 2020 gestagneer: daar was negatiewe groei van 0,16%. Gedurende die drie jaar van Januarie 2018 tot Januarie 2021 het bykans 20% van die land se melkboere die bedryf verlaat. In die konteks van die Suid-Afrikaanse primêre melkbedryf is dit ’n MITE dat meer melk meer geld beteken. (Bronne: Stats SA en Melk SA)

  1. HET DIE NEGATIEWE PLAASEKONOMIE IN 2018, 2019 EN 2020 RESERWES EN KAPASITEIT OP MELKPLASE UITGEWIS?

In 2018 het die prys vir onverwerkte melk met 18% gedaal, terwyl die produksie van onverwerkte melk van 2017 tot 2018 met 4,82% toegeneem het. In 2019 het die prys vir onverwerkte melk met 10% gestyg, terwyl die produksie van onverwerkte melk met 0,16% ingekrimp het.

Van Januarie 2018 tot Januarie 2021 het ongeveer 20% van die land se melkboere die bedryf verlaat.

Van 2018 tot 2020 het die produksie van onverwerkte melk toegeneem met ’n marginale 0,49%, terwyl die prys van onverwerkte melk in Desember 2020 dieselfde vlak bereik het as in Oktober 2017.

FEIT

Die volgende punte dui daarop dat reserwes en kapasiteit op melkplase erg geknou is:

  • die stagnering in die produksie van onverwerkte melk oor die afgelope twee jaar, ten spyte van die hoë persentasie prysstygings;
  • die koers waarteen boere disinvesteer in primêre melkboerdery;
  • die volume-dryf in 2018, wat die gevolg was van die vinnige daling in die prys van onverwerkte melk, en waar melkboere meer melk met skraler marges geproduseer het om inkomstevlakke te handhaaf;
  • die ongunstige klimaatstoestande in 2018 tot 2020 in sekere dele van die land; en
  • die tendens oor dieselfde tydperk om melkverse aan voerkrale te verkoop.
  1. IS DIT DIE BESTE OPSIE IN DIE HUIDIGE BEDELING OM DIE PRODUKSIEGROEI VAN ONVERWERKTE MELK AF TE SKAAL?

Die grafiek hieronder gee ’n aanduiding van watter optrede geverg word in die primêre melkbedryf.

Figuur 1 PPI vir onverwerkte melk en suiwelprodukte en VPI vir melk, kaas en eiers

(Bron: Stats SA, Melk SA)

Wanneer die produksie van onverwerkte melk met meer as sowat 2,5% per jaar toeneem, is die mark nie in staat om strategieë toe te pas om die vraag voldoende te vergroot nie. Dis ’n feitlik onmoontlike doelwit om die produksie van onverwerkte melk te laat groei met ’n skraal marge van slegs 2% per jaar, versprei oor 500 000 lakterende koeie te midde van voortdurende klimaatsveranderings. Dit kom neer op 36 mℓ melk per koei per dag om die groei oor ’n jaar te bewerkstellig. Die uiterste nadeel is dat as jy die merk mis en met byvoorbeeld 4% groei vir die jaar, die melkprys ineenstort en eers in plus twee jaar weer herstel (dis presies wat die grafiek aantoon). Om produksiegroei te verlaag in die huidige markbestel is die beste opsie, voeg by die onsekerheid rakende die vraag na suiwelprodukte, en jy het die antwoord – dit is ’n FEIT. Verkort die stert van kudde, konsentreer op hoë produksie diere en verlaag die risiko van lewenvatbaarheid deur die aantal koeie per hektaar te verlaag.(Bron: Stats SA, Melk SA)

  1. HET DIE SUIWELWAARDEKETTING ’N BOSBERAAD NODIG?

Hoewel daar baie raakpunte en interaksie in die suiwelwaardeketting is, lyk dit tog of daar ruimte is vir ’n kaalkop-werkswinkel waar alle partye hul bydraes kan lewer oor die kompleksiteite van die markruimte waarin hulle opereer. In hierdie proses kan gemeenskaplike grond ontdek word, en dalk moontlik ook nuwe inisiatiewe om volhoubaarheid en winsvlakke te verbeter. Dit kan ’n einde bring aan die huidige disinvestering in die primêre melkbedryf. Die bosberaad sal gefasiliteer word binne die parameters van die Wet op Mededinging (89 van 1998).

Bertus van Heerden, hoof-ekonoom, Melkprodusente-organisasie (MPO)

Laai die MPO Aanwyser 3 van 17 Maart 2021 hier af in pdf-formaat

Published on Wednesday, 24th March 2021 - 12:58

Recent Posts

CHURN YOUR WEEKEND INTO A WEST COAST CHEESE AND WINE FESTIVAL

12 April 2022 Over the weekend of Saturday 23 to Sunday 24 April, the historic Groote Post Wine Estate, world-renowned for its award-winning wines, will play
Read More

HEAVY RAINFALL, ROADS CLOSURES PUT STRAIN ON KZN’S AGRICULTURAL SECTOR

MEDIA RELEASE                                                                                                                   14 April 2022 The exportation of produce and importation of agricultural related goods has been significantly affected by the recent severe weather conditions
Read More

INTERNATIONAL FARMER PRICES AND DAIRY PRODUCT PRICES AT RECORD LEVELS

MPO POINTER 2/8 April 2022 In Europe, the average farmer price of unprocessed milk is up by 20%. Indeed, a new price regime developed after numerous
Read More

FOOT-AND-MOUTH DISEASE BIOSECURITY STRATEGY FOR THE MILK PRODUCER

FOR IMMEDIATE RELEASE | 31 March 2022   Since 1 March 2022, eight new outbreaks have occurred in four South African provinces. Limpopo              2             11 March
Read More

disclaimer