MPO-AANWYSER 1/4 JANUARIE 2021
AGTERGROND
Die MPO beskou dit as gebiedend noodsaaklik om ten opsigte van makroprysvlakke en tendense in suiwelpryse (primêr, sekondêr en kleinhandel) te hou by een databron, wat deur die bedryf as amptelik en gesaghebbend beskou word.
Die divergerende tendens wat sedert die begin van 2018 waargeneem word in die prys van onverwerkte melk (plaashekprys) en suiwelprodukte (sowel sekondêr en tersiêr) is so duidelik soos daglig en behoort nie verdoesel te word deur statistiese geraas wat bedoel is om die aandag van die probleem af te lei nie. Openbare verklarings vol statistiese geraas verhinder rolspelers in die waardeketting om ’n billike verdeling van die winsmarge in die waardeketting te vestig. Dit kan lei tot eensydige deduktiewe redenering, wat foutiewe uitsprake tot gevolg het.
Statistiek Suid-Afrika is die amptelike en gesaghebbende bron met betrekking tot datastelle vir ekonomiese aanwysers, soos die berekende indekse vir produsentepryse (primêr en sekondêr), verbruikerspryse (kleinhandelspryse), en die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk. Statistiek Suid-Afrika voorsien data op ’n nasionale grondslag deur die gebruik van ’n baie spesifieke metodologie en ’n herhalende proses. Indekse wat op hierdie grondslag bereken word, is instrumenteel in die aanduiding van groot prysskommelings oor ’n tydperk, terwyl moontlike tydsloere en statistiese uitskieters ook in ag geneem word. In die geval van die produsenteprys-indeks (PPI) vir suiwelprodukte (vars melk, UHT-verwerkte melk, jogurt en cheddarkaas) en die verbruikersprysindeks (VPI) vir melk, kaas en eiers is dit heeltemal verstaanbaar dat hierdie indekse nie alle suiwelprodukte insluit nie en dat die tydreeks in hierdie verband gebruik moet word.
Dit spreek dus vanself dat as die verskillende datareekse geleidelik oor ’n tydperk divergeer, dit die resultaat kan wees van markveranderings wat aanpassings in die produkmandjie (mengsel) noodsaak, of aanpassings in die gewigsallokering in die produkmandjie. In die geval van die PPI vir onverwerkte melk en suiwelprodukte (vars melk, UHT-verwerkte melk, jogurt en cheddarkaas), en die VPI vir melk, kaas en eiers, was prysbewegings radikaal. Hierdie verskynsel suggereer dat prysbewegings nie weggeredeneer kan word as gevolg van ’n onverteenwoordigende produkmandjie nie, maar dat die sleutel eerder die prysvlakke is wat verantwoordelik is vir die tendense in die relevante indekse.
PRYSTENDENSE IN ONVERWERKTE MELK (PLAASHEKPRYS), VERWERKERSPRYSE EN VERBRUIKERSPRYSE (KLEINHANDELSPRYSE) VIR SUIWELPRODUKTE
Dit blyk duidelik uit die grafiek hieronder dat die prysindeks in ’n smal band beweeg. Dit weerspieël ’n mate van homogene gedrag in die verskillende indekse tot Maart 2018. Daar was ’n drastiese afwaartse beweging in die plaashekprys vir onverwerkte melk vanaf Augustus 2015 tot Februarie 2016 (’n tydperk van sewe maande) weens ’n groot toename in die produksie van onverwerkte melk gedurende 2015, wat gelei het tot verlaagde plaashekpryse. Sodra die markbalans teruggekeer het, was die indekse weer goed op spoor van Maart 2016 tot Maart 2018. Daar was ’n volgende drastiese afwaartse beweging in die plaashekprys vir onverwerkte melk vanaf April 2018 weens ’n groot toename in die produksie van onverwerkte melk gedurende 2018, wat gelei het tot verlaagde plaashekpryse. Tydens hierdie beweging het plaaspryse geval tot dieselfde vlak as in Oktober 2014. Dit het gedeeltelik herstel in Mei 2019, en weer geval in September 2019, wat gelei het tot ’n dubbele verlaging gevolg deur gedeeltelike herstel in Mei 2020, hoewel dit nooit weer genoegsaam by die ander twee indekse aangesluit het nie.
Die belang van die chronologiese vloei van onverwerkte melk wat hierbo beskryf is, is soos volg:
Figuur 1 PPI-indekse van onverwerkte melk en suiwelprodukte en die VPI van melk, kaas en eiers, met regressiemodelpassings, Jan. 2012–Okt. 2020 (Bron: Stats SA).
Die groter wordende gaping tussen wat ’n melkboer ontvang en wat verbruikers betaal vir suiwelprodukte is slegs een van die voorvertonings in die konsert van die suiwelwaardeketting. Die vlak van onbestendigheid op plaasprysvlak word geïllustreer deur gebruik te maak van regressiemodelle om ’n tendens te bepaal. R-kwadraat is ’n meting van hoe goed ’n model by die data pas. Dit kan geïnterpreteer word as die mate van variansie wat deur die model verklaar word. Dit is ’n getal tussen 0 en 1 (0 ≤ R² ≤ 1). Hoe nader die waarde aan 1 is, hoe beter word variansie deur die model verklaar.
Die liniêre regressie is nie ’n goeie passing vir die bepaling van ’n tendens in produsentepryse van onverwerkte melk (plaashekprys) nie, hoewel dit ’n goeie passing voorsien vir die ander twee indekse, naamlik suiwelprodukpryse (R² = 0,92) en kleinhandelpryse (R² = 0,97) vir melk, kaas en eiers. Die basiese liniêre regressie toon die tendense aan wat ter sprake is en help met beplanning vir die twee rolspelers stroomaf in die waardeketting (ná die melkboer). Terwyl ander regressies getoets is (eksponensieel, logaritmies, polinomiaal, en tot die mag van), het die polinomiale regressie die beste passing gebied vir die produsenteprys van onverwerkte melk (R² = 0,75). Die tendens het inderdaar suid gedraai sedert Junie 2019 weens die skerp daling in produsentepryse sedert April 2018, wat nooit ten volle herstel het nie. In die lig van die gedrag van produsentepryse oor die afgelope paar jaar is besigheidsbeplanning op die primêre vlak (plaasvlak) moeilik.
Dit is belangrik om daarop te let dat produsentepryse nie net deur markfaktore beïnvloed word nie, maar ook beïnvloed kan word deur spesifieke omstandighede op verwerker- of kleinhandelsvlak, wat markkragte kan oorskadu.
“DIE MARK IS SOOS DIE WIND – JY KAN DIT NIE SIEN NIE, MAAR JY KAN DIT VOEL.” – ANONIEM
Die mark is ’n breë term wat kopers, verkopers en sentiment dek. Dit is die MPO se uitgangspunt dat dit nodig is om die plaashekprys in hierdie mark op ’n deursigtige markverwante wyse te ontdek. Ons glo dat daar bewyse van gekonsentreerde markkrag in die waardeketting bestaan en dat dit ’n bedreiging inhou vir die melkboer, swart ekonomiese bemagtiging in die melkbedryf, melkplaaswerkers, en rolspelers stroomop in die waardeketting. Ons beskou die gekonsentreerde markkrag as ’n faktor wat bydra tot onvolmaakte markmededinging, wat verder verwring word deur inligting-asimmetrie waar rolspelers stroomaf in die waardeketting oor meer inligting beskik as die individuele boer. Dit skep ’n magswanbalans in transaksies waar die boer die transaksie moet aanvaar soos wat dit aangebied word.
Openbare verklarings wat aandui dat die bedingingsvermoë tussen die melkboer en ’n melkverwerker verskuif afhangende van die beskikbaarheid van onverwerkte melk is onwaar. Melkprodusente is die fundamentele prysnemers. Die wesenlike aard van melkboerdery en die eienskappe van melk is die resultaat van ’n uiters blootgestelde produsent. Die mate waarin melkboere oorslaan van een koper na ’n ander is nie die resultaat van die boer se bedingingsvermoë nie, maar geskied bloot omdat ’n beter prys aan die boer gebied word deur ’n ander melkverwerker. Dit het niks te doen met die boer se bedingingsvermoë nie.
Om die boer se bedingingsvermoë voor te hou as ’n funksie van die beskikbaarheid van onverwerkte melk is ’n oorvereenvoudiging van ’n komplekse stel faktore wat ’n melkboer in ag moet neem wanneer hy/sy ’n beter prys gebied word deur ’n ander melkkoper: Is die melkkoper oor die langtermyn in die bedryf? Hoe sal die skuif na ’n nuwe melkkoper die ekonomie van die oplaairoete beïnvloed? Sal die skuif daartoe lei dat die ander melkkoper (as aanvaar word dat daar twee is) se onderneming nie langer lewensvatbaar is nie en dat daar net een melkkoper in die area oorbly? Hoe kredietwaardig is die nuwe melkkoper? Wat is die kontraktuele aanspreeklikheid teenoor die huidige melkkoper? Dit moet vermeld word dat daar dikwels slegs een melkkoper in ’n area is, ’n feit wat vir sigself spreek.
PRYSONTDEKKING VERSUS PRYSBEPALING
Ons moet onderskei tussen prysontdekking versus prysbepaling. Prysbepaling kom kortliks daarop neer dat die prys deur iemand daargestel word, met verkopers wat bereid is om die aangebode prys te aanvaar. In ’n mark waar mag gekonsentreer is, kan dit deur een van die rolspelers gedoen word, terwyl die ander daardie prys as ’n basis gebruik.
In teenstelling hiermee is prysontdekking die proses waar die totstandkom deur die interaksie tussen verkopers en kopers. Dit volg die kragte van vraag en aanbod om by ’n transaksieprys uit te kom en behels ’n sentrale mark waar kopers en verkopers ontmoet. Dit is tipies ’n kommoditeitsveiling. In ’n deursigtige mark behels die prysontdekkingsproses kopers en verkopers wat op ’n gegewe tydstip by ’n transaksieprys vir ’n spesifieke item of produk uitkom. Prysontdekking is die samevatting van die totale marksentiment op ’n gegewe tydstip – ’n veelfasettige aggregaatbeskouing van die toekoms. Prysontdekking bestaan nie in die primêre melkbedryf nie.
DIE KRAGTE AGTER DIE ALLOKERING VAN HULPBRONNE
In ’n markekonomie word die allokering van hulpbronne op die mees doeltreffende manier onderlê deur die kragte van vraag en aanbod. Wanneer vraag en aanbod gelyk is word daar gesê dat die ekonomie in ekwilibrium is. By daardie ekwilibriumprys verkoop die verskaffers of produsente al die produkte wat hulle geproduseer het en die verwerkers of verbruikers koop al die goedere wat hulle verlang. Dit is dus van deurslaggewende belang dat die prys die korrekte sein aan al die rolspelers in die suiwelwaardeketting moet uitstuur om die korrekte allokering van hulpbronne te verseker.
In die werklike mark kan ekwilibrium egter slegs in teorie bereik word, omdat die pryse van goedere en dienste voortdurend verander in verhouding tot vraag en aanbod. ’n Mens kan redeneer dat volmaakte mededinging en ’n suiwer monopolie ’n verbeeldingsvlug is, maar monopolistiese mededinging (onvolmaakte mededinging) is werklik. Onvolmaakte mededinging maak deel uit van die regte wêreld en lê tussen suiwer mededinging en suiwer monopolie – die twee uiterstes. Ons moet dus aanvaar dat ons sal opereer in onvolmaakte markte en dat ons maatreëls en taktiek sal instel om die impak van onvolmaakte mededinging te versag. Oordrewe stellings en veralgemenings dat die wet van vraag en aanbod dinge sal uitsorteer is dus foutief, aangesien daar beperkings is op wat ’n mark met onvolmaakte mededinging kan doen.
Die vermoë om markprestasie objektief te evalueer en om die tekortkominge in baie markgeoriënteerde ekonomieë te erken dui op volwassenheid en konstruktiewe betrokkenheid. Openbare uitsprake tot die teendeel is kortsigtig. Hierdie betrokkenheid bewys aan verbruikers dat rolspelers aktief is in die verfyning van die veranderlikes en inligtingsdinamika met betrekking tot prysvorming in die waardeketting om waarde vir geld te verseker en gevolglik die beeld van suiwelprodukte in die mark te verbeter.
Bertus van Heerden, hoofekonoom, Melkprodusente-organisasie (MPO)
Published on Wednesday, 6th January 2021 - 08:02
disclaimer
Cookie | Duration | Description |
---|---|---|
cookielawinfo-checkbox-analytics | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Analytics". |
cookielawinfo-checkbox-functional | 11 months | The cookie is set by GDPR cookie consent to record the user consent for the cookies in the category "Functional". |
cookielawinfo-checkbox-necessary | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookies is used to store the user consent for the cookies in the category "Necessary". |
cookielawinfo-checkbox-others | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Other. |
cookielawinfo-checkbox-performance | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Performance". |
viewed_cookie_policy | 11 months | The cookie is set by the GDPR Cookie Consent plugin and is used to store whether or not user has consented to the use of cookies. It does not store any personal data. |