deur Johan van den Berg
Onafhanklike landbouweerkundige (MScAgric, Landbouweerkunde, UFS)
Belangrike inligting
Ryp en lae temperature gedurende September het steeds oor groot dele van Suid-Afrika voortgeduur. Matige tot redelike strawwe ryp het gedurende die laaste week van September voorgekom en skade aan druiwe, vrugte- en neutbome, aartappels en vroeë aanplantings van winterkoring veroorsaak. Die voorkoms van ryp in die laaste deel van September is later as wat verwag is.
Die eerste betekenisvolle somerreënval het in die eerste week van Oktober voorgekom, met byvoorbeeld Vrede in die Vrystaat wat byna 40 mm gemeet het, Warden met meer as 30 mm en Bothaville met ongeveer 20 mm. Reën het ook in Mpumalanga voorgekom: Marble Hall (17 mm), Witbank (10 mm) en Bethal (15 mm); en in Mokopane, Limpopo is 30 mm gemeet. In die Oos-Kaap het Grahamstad byna 30 mm gehad, Port Elizabeth ongeveer 25 mm en Graaff-Reinet in die Karoo 22 mm. In KZN is tot 50 mm op plekke gemeet.
Beduidende reënval het in September voortgeduur in die winterreënvalgebied en gunstige produksietoestande vir wintergrane tot gevolg gehad. Die relatiewe lae temperature was ook gunstig vir wintergraanproduksie.
Die intense droogte duur steeds voort in dele van die Noord-Kaap, alhoewel goeie reënneerslae in die suidwestelike dele in distrikte soos Springbok, Garies en Kamieskroon gemeet is, wat sal help om die droogte in hierdie gebiede op te hef. Distrikte waar die droogte nog baie intens is, is byvoorbeeld Pofadder, Kenhardt, Prieska, Van Wyksvlei, Carnavon en ander distrikte in die sentrale tot suidelike dele van die Noord-Kaap. Die grootste deel van die Kalahari (noord van Upington) is ook nog steeds baie droog, met ondergemiddelde reënval vir amper die laaste dekade. Die noordelike binneland van die Wes-Kaap sowel as dele van die Oos-Kaap is ook steeds in ʼn droogtegreep.
Die watervlakke is krities laag in enkele groter damme soos die Vaaldam, wat tans net 33% vol is teenoor 55% verlede jaar in dieselfde periode. The Tzaneendam, wat water aan die Letaba-besproeiingskema voorsien, het tot onder 10% gedaal en die vlak daal steeds vinnig. In die Oos-Kaap is die Kougadam slegs 8% vol teenoor ongeveer 40% verlede jaar dieselfde tyd, en die Nelson Mandela metropool is vinnig op pad na “Dag Zero” as aanvulling nie binne die volgende weke kom nie. Dit bedreig ook die Gamtoos-besproeiingsgebied, ’n baie belangrike sitrusuitvoergebied. Die damvlakke in die Wes-Kaap is gunstig en die Theewaterskloofdam het vir die eerste keer in baie jare weer oorgeloop. Die belangrike Clanwilliamdam, wat water aan Citrusdal en omliggende areas verskaf, is ook 100% vol nadat dit in Mei 2020 onder 10% was.
Die watervlak van die Karibadam in Zambië is op 30,5%, die Katzedam in Lesotho op 24,3% en die Hardapdam in Namibië op 35% – groot rede tot kommer.
2.1 El Niño–Suidelike Ossilasie (ENSO)
Seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede toon tans stewige La Niña-waardes. Die Australiese Buro vir Meteorologie voorspel ’n matige tot sterk La Niña vir die grootste deel van die 2020/2021-somer. Die La Niña is goed gevestig en dit is meer as 80% seker dat dit so sal bly tot ten minste die herfs van 2021. Seeoppervlaktemperature in die belangrike Niña 3 en 4-gebiede is ongeveer 1 °C koeler as normaal, met voorspellings wat aandui dat dit tot ongeveer 1,5 °C koeler as normaal gaan daal. Dit kan as ’n sterk La Niña beskou word.
Die suidelike ossilasie-indeks (SOI), wat die maatstaf van die koppeling tussen seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede en die oorliggende weersisteme is, is nou reeds vir die tweede agtereenvolgende maand in die positiewe fase van die SOI-sisteem (La Niña-neigend). Die teenwoordigheid van ’n La Niña-verskynsel met die SOI wat goed daarop reageer, is baie betekenisvol vir reën.
2.2 Indiese Oseaan
Verdere afkoeling van oppervlaktemperature het in die suidwestelike Indiese Oseaan plaasgevind, met verwarming in die sentrale tot oostelike Indiese Oseaan. Hierdie opstelling is gunstig vir die verlenging van die negatiewe fase van die Indiese Oseaan-dipool (IOD).
3.1 Somerreënvalgebied
Reënval: Die teenwoordigheid van ’n La Niña-verskynsel saam met ’n negatiewe fase van die IOD is baie positief vir somerreënval. Alhoewel ’n La Niña-verskynsel gewoonlik verantwoordelik is vir ’n effens later aanvang van die reënvalseisoen, is die mid- tot laatsomer gewoonlik nat tot baie nat.
Soortgelyke seisoene in die verlede met beide La Niña en ’n negatiewe fase van die IOD was:
1974/1975, 1975/1976, 1988/1989 en 1998/1999.
Gedurende die vorige sterk La Niña in 2010 tot begin 2012 was daar ook bogemiddelde reënval, alhoewel die IOD net in ’n swak negatiewe fase was.
Gedurende hierdie soortgelyke jare het bogemiddelde reënval selfs oor die verre westelike binneland voorgekom. Die westelike binneland is alreeds vanaf ongeveer 2012 in ’n droogte en dit lyk asof dit vanjaar gebreek kan word.
Temperatuur
Minimum temperature gaan waarskynlik ondergemiddeld bly tot in die laaste deel van Oktober. Gemiddelde tot bogemiddelde temperature kan verwag word in die sentrale tot westelike asook noordelike binneland, vanaf die laaste deel van Oktober en November totdat die reënseisoen begin. Daar is ’n groot waarskynlikheid dat ’n ondergemiddelde aantal hitte-eenhede gaan voorkom vir die somerseisoen as geheel en produsente word aangeraai om somergewasse vanjaar nie te laat aan te plant nie. ʼn Moontlike oormaat reën in Januarie tot Maart kan latere aanplantings meer benadeel as vroeër aanplantings.
3.2 Winterreënvalgebied
Die verwagting is dat die reënvalpatroon verder gaan skuif vanaf die Suidwes-Kaap na die suidelike, oostelike en noordoostelike dele van die land in Oktober. Daar is egter steeds reën moontlik oor die winterreënvalgebied, met kouefronte wat die land beïnvloed. Ligte reën is moontlik rondom 7–8, 15–16 Oktober, asook in die laaste week van Oktober.
3.3 Namibië
Die huidige La Niña-ontwikkeling tesame met die negatiewe fase van die IOD is baie positief vir bogemiddelde reënval in die mid- tot laatsomer, met ’n groot risiko vir vloede in laagliggende gedeeltes. Kort- tot mediumtermynvooruitsigte dui daarop dat ligte reënneerslae in die tweede week van Oktober moontlik is, maar dat die werklike aanvang van die reënseisoen waarskynlik eers in die tweede deel van November gaan wees.
Die verwagting is dat die baie droë suidelike tot suidwestelike dele van Namibië ook voldoende reën gaan kry om die droogte te breek, maar waarskynlik eers in Desember of in die tweede deel van die somer.
Die outeur of Santam of enige ander partye in die dokument genoem of aangehaal, waarborg geensins die akkuraatheid, volledigheid of betroubaarheid van die inligting in die dokument nie. Enige aksies of besluite wat geneem word op grond van die inligting in hierdie dokument word op eie risiko geneem en sal die outeur, Santam of enige ander partye genoem in die dokument geensins verantwoordelik wees vir enige verliese of skade in verband met die gebruik van die inligting soos wat dit voorkom in hierdie dokument nie.
E-pos: wjvandenberg1959@gmail.com
Sel: 082 374 4692
Published on Thursday, 8th October 2020 - 10:49
disclaimer
Cookie | Duration | Description |
---|---|---|
cookielawinfo-checkbox-analytics | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Analytics". |
cookielawinfo-checkbox-functional | 11 months | The cookie is set by GDPR cookie consent to record the user consent for the cookies in the category "Functional". |
cookielawinfo-checkbox-necessary | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookies is used to store the user consent for the cookies in the category "Necessary". |
cookielawinfo-checkbox-others | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Other. |
cookielawinfo-checkbox-performance | 11 months | This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Performance". |
viewed_cookie_policy | 11 months | The cookie is set by the GDPR Cookie Consent plugin and is used to store whether or not user has consented to the use of cookies. It does not store any personal data. |